WIE IS SKY OCEAN (vervolg)
Volgens haar, is die liedjie Shooting Star ook geskryf vir en geïnspireer deur dieselfde persoon as haar nuutste enkelsnit. Dit is in Australië opgeneem en vervaardig deur Byron Keno en het ’n tipiese Santana (uit die tagtigs)-gevoel en ’n popaanslag, wat elemente van Jazz, Pop en Blues bevat. “Ek dink ons dames het baiekeer die geneigdheid om onsself vas te vang in films, boeke en hoe ons dink feëverhale moet wees en moet eindig, maar dis nie noodwendig realisties nie. So ons is almal maar net opsoek na ’n verskiettende ster wat al ons wense, drome en fantasie oor liefde gaan laat realiseer,” sê sy oor die betekenis agter dié treffer.
Vlekke, wat baie potensiaal het om gewild te wees onder luisteraars, is ’n lekker liedjie vir die langpad en gaan oor die mense en situasies wat vlekke op jou lewe los, waarvan jy nie sommer gou sal vergeet nie.
Daar is nie vir haar ’n spesifieke oomblik wat sy besef het dat sy ’n musikant wou word nie en meen dat dit iets is wat net nog altyd daar was. Sy kon immers sing voordat sy kon praat en oor die jare het haar passie vir musiek net meer-en-meer gegroei. Sy spog met ’n graad vyf musiekkwalifikasie van UNISA, asook graad ses stemopleiding van Trinity London College en graad sewe stemopleiding van Rockschool. Na twee jaar in die musiekbedryf, sonder sy die voorreg om saam met Juan Boucher en Byron Keno te kon werk as groot hoogtepunte uit. Verder is sy reeds ’n gereelde gesig by feeste soos Innibos en het sy al ’n draai op die musiekprogram, JAM, gemaak. Een van haar liedjies is ook ingesluit op die Afrikaans, Jou Lekker Ding!-DVD.
Die kunstenaar het waardering vir ’n wye verskeidenheid musiek (veral uit die tagtigs en deur Demi Lovato) en beskou die internasionale ster, Demetria Devonne Lovato, as een van die grootste invloede op haar eie outentieke musiekstyl. “Dit sal vir my ’n groot voorreg wees om in die toekoms saam met kunstenaars soos Elvis Blue en Die Heuwels Fantasties te werk”, deel die sangeres.
As jy haar vra waar sy die inspirasie vir haar lirieke vandaan kry, antwoord sy dat dit soms van persoonlike ervarings of uit ander mense se stories kom, maar dat sy net iets kan sing as sy haar eie hart daarvoor oopmaak. Sy verklap ook dat sy oorspronklik teologie wou gaan studeer het, maar dat die Here ’n ander plan vir haar gehad het.
Daar is nog baie wat sy in die toekoms wil bereik en sy is nie bang om groot te droom nie. “Ek sal graag met BLACKHOLES IN MY HEAD internasionale status wil bereik, selfs platinum as ek kan en hoop dat ek ook benoem sal word vir toekennings vir hierdie liedjie. Ek skiet vir die maan, en wie weet, dalk eindig ek dalk nog tussen die sterre op. Daar is nie ’n ander opsie as musiek nie, geen plan B nie,” deel sy.
Die musiekbedryf het haar geleer dat harde werk, uithouvermoë en geduld die sleutelbestanddele is tot sukses en dat jy nooit in jouself moet twyfel nie. BLACKHOLES IN MY HEAD is nie net ’n bewys van Sky Ocean se uitsonderlike talent nie, maar gaan beslis ook vir haar ’n permanente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers en op die treffersparades van die land se grootste radiostasies vestig.